Thursday, July 12, 2007

Bfn dalk voor met bio-brandstof

Jul 11 2007 10:51:39:360PM
Cathy Dlodlo
Die plaas Ronneplaagte net buite Bloemfontein gaan moontlik binnekort geboorte kan skenk aan ’n “groen” Bloemfontein.

DIE plaas Ronneplaagte net buite Bloemfontein gaan moontlik binnekort geboorte kan skenk aan ’n “groen” Bloemfontein.
Dit is die mening van me. Beatrice Marshoff, premier van die Vrystaat. Sy het gister dié plaas besoek waar twee vennote, mnre. Niel Fichardt en AJ Dippenaar, bio-brandstof vir eie gebruik vervaardig.

Marshoff sê ’n groot verskil begin met een stap, en as die provinsiale regering met ’n bewusmakingsveldtog begin en self op ’n klein skaal bio-brandstof begin gebruik, kan Bloemfontein later die voortou neem in omgewingsvriendelikheid.
“Ons kan byvoorbeeld die kragopwekkers wat by die Mangaung-kultuurfees, Macufe, gebruik word, met bio-brandstof aan die gang hou. Later kan busdienste wat ’n staatsubsidie kry, aangemoedig word om bio-brandstof te gebruik.”
Fichardt sê wêreldwyd is daar ’n beweging om eerder bio-brandstof in plaas van diesel te gebruik. Hy sê dié bio-brandstof het dus ’n rooskleurige toekoms.
Dié twee vennote koop gebruikte olie van restaurante in die stad en omskep dit in bio-brandstof met toerusting wat hulle in ’n buitegebou op die plaas aangebring het. Fichardt sê dié toerusting het hulle sowat ’n halfmiljoen rand gekos, maar hulle pluk die vrugte daarvan. Al die trekkers op die plaas en dié twee vennote se bakkies loop op hul eie vervaardigde bio-brandstof.

“Ons vervaardig sowat 25 000 liters brandstof per maand en dit kos ons ongeveer R3 per liter.”

Hierdie man droom groot. Hy sê hy kry al klaar oproepe van oral in Suid-Afrika oor hul brandstof. “Dink net wat dit vir die Vrystaat kan beteken as ons teen 2010 met die Wêreldsokkerbeker-toernooi in busse rond kan ry met plakkers wat sê ‘dié bus gebruik bio-brandstof’!”

No comments: